Soos die opinies oor die Aardklop Nasionale Kunstefees links en regs die kuberruim oorneem, is dit vir die Potchefstroom Sakekamer belangrik om die gemeenskap en sakelede met betroubare, eerstehandse inligting te dien.

Potch is Aardklop en Aardklop is Potch! Soos ons almal weet, is die Aardklop Nasionale Kunstefees eie aan Potch. Aardklop is die één geleentheid wat jaarliks ons harte opnuut laat klop nie net vir ons dorp nie, maar ook vir kunste, besigheid en samesyn. Deur die jare het die Aardklop Nasionale Kunstefees die Potchefstroom ekonomie, gemeenskap, kuns- en fees landskap omtower met hoop vir ‘n beter toekoms. Dit is nou ons tyd om dieselfde vir Aardklop te doen, want deur dik en dun sal Aardklop steeds vir en in Potchefstroom klop. 

Die aankondiging dat die Aardklop Nasionale Kunstefees vanjaar van 28 September tot 3 Oktober by die Voortrekkermonument aangebied word, is uit verband uit geruk en moet eerder nie gesien word as Aardklop in geheel nie, maar as ‘n Aardklop-inisiatief, beter bekend as die Aardklop Opwipfees, wat daarop toegespits is om die kunste en spesifiek ons kunstenaars te ondersteun. Hierdie inisiatief word op ‘n klein skaal aangepak wat slegs ses produksies en visuele kunste insluit. Daar sal geen uitstallers of ander feesvieringe toegelaat word nie. “Dit was ‘n besluit wat ons op kort kennisgewing moes maak. Ons het vroeër aangekondig dat ons die fees vir die tweede agtereenvolgende jaar nie kan aanbied nie, maar ons is nou desperaat om die kunstenaars te help. Hulle het ‘n groot terugslag sedert die Covid-19-pandemie gekry en sukkel vir die afgelope 18 maande om brood op die tafel te sit”, sê Alexa Strachan, hoof uitvoerende bestuurder van Aardklop hieroor.

Volgens Strachan was die besluit van die direksie om die Aardklop Opwipfees in Pretoria te hou, omdat meeste fasiliteite in Potchefstroom, weens die pandemie, nie beskikbaar is nie. “Die lokale waar ons produksies in Potchefstroom aangebied het soos die ouditorium, konservatorium en die Totiussaal is nou vir die publiek gesluit en nie al die skole kan hulle skoolsale beskikbaar stel nie. Die feesterrein kan ook nie gebruik word nie, aangesien dit te veel mense lok”, sê sy. Sy voer ook verder aan dat Aardklop se kaartjieverkope die afgelope jare ook gewys dat 75% van al die kaartjie-aankope deur inwoners van Gauteng gedoen word. Strachan sê dat hulle vroeër ‘n produksie van Frank Opperman, Donkie, in Potchefstroom moes kanselleer, omdat daar nie genoeg belangstelling van die Potchefstromers was nie, terwyl die toneelstuk vol sale in Pretoria getrek het.

Dit Aardklop Opwipfees-inisiatief se doel is om ons kunstenaars te ondersteun en ook om Suid-Afrikaners weer aan te moedig om die kunste te ondersteun. “Die kunste het vanaf 1998 vir Potchefstroom ‘n reuse finansiële inspuiting gegee en dit is nou die tyd om vir een keer die bordjies te verhang sodat ons ‘n toekoms vir kunste en kustenaars in Suid-Afrika kan verseker,” sê Jonathan Baron, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer. Die inisiatief en doel van die Aardklop Opwipfees is met die Sakekamer bespreek en die Sakekamer is 100% gemaklik dat daar geen moontlikheid bestaan dat die volledige Aardklop Nasionale Kunstefees ooit in enige ander stad as Potchefstroom aangebied sal word nie – daar is in die verlede al hand-en-tand hiervoor baklei en baie duidelike ooreenkomste hieroor beklink.

Aardklop se hart sal altyd klop vir Potchefstroom! Die Aardklop-span is reeds besig om Aardklop vir 2022 in Potchefstroom te beplan en die Sakekamer is opgewonde oor wat hierdie fees gaan oplewer.

Soos ons slagspreuk lui: Saam vir ‘n beter toekoms, wil ons almal aanmoedig om saam te staan en die kunste van Suid-Afrika te ondersteun.