Volkie-Gimmie Derby wil gemeenskap bymekaar bring!
Die Potchefstroom Sakekamer, in samewerking met Hoër Volkskool en Potchefstroom Gimnasium, skep vanjaar ‘n “Eikelaan-Geesbaan” om die gemeenskap tydens die immergewilde Volkie-Gimmie Derby bymekaar te bring asook fondse vir die onderskeie skole en Eikeboomlaning Vereniging in te samel.

Die rolspelers beoog om met die Eikelaan-Geesbaan projek 200 eikebome vanaf Potchefstroom Gimnasium tot by Hoër Volkskool met die onderskeie skole se korporatiewe kleure te versier. “Ons akkerlaning is deel van die geskiedenis van die dorp, net soos die twee mededingende skole, en daarom het ons besluit om vanjaar die akkerlaning vanaf Potchefstroom Gimnasium tot by Hoër Volkskool, wat die gasheer van die Volkie-Gimmie Classic Clash is, asook hulle 100ste bestaansjaar vier, op te maak” sê Juanita Smit, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer.

Geesdriftige ondersteuners, ouers en besighede kan betrokke raak deur ‘n boom teen R450.00 te borg om versier te word. Borgskappe kan tussen 12-20 Mei by die onderskeie skole of die Potchefstroom Sakekamer geboek word. Die fondse wat geïn word, sal ten bate van die skole, sowel as die Akkerlaning vereeniging wees, wat omsien na die welstand van die bome. Op Maandag 23 Mei 2022, wat die afskop van die Volkie-Gimmie Classic Clash is, sal die twee skole en die Sakekamer mekaar simbolies in die middel tussen die skole by die Snowflake ontmoet. Daar sal ʼn seremonie saam met die hoofde, die kapteine van al die eerste spanne wat gaan deelneem, die bestuur van die Sakekamer, asook die media wees.

Hierdie projek is net een van die vele inisiatiewe wat beide Hoër Volkskool en Potchefstroom Gimnasium aanvat om sodoende die jaarlikse Derby na nuwe hoogtes te neem. Johan Janse Van Rensburg, Hoër Volkskool Beheerliggaamlid, sê dat daar geen rede is waarom hierdie Derby nie ook onder een van die grootstes in die land beskou kan word nie. Hy noem dat die skole besluit het om vanjaar klein af te skop met die doel om oor vyf jaar (2027) aan hierdie Derby sy regmatige plek te besorg. “Hierdie jaarlikse geleentheid kan dieselfde status as byvoorbeeld die Paarl Gim- en Paarl Bois High-Derby geniet en dit sal natuurlik uniek op die twee skole gebasseer wees, asook Potchefstroom se eie geskiedenis,” noem Janse Van Rensburg.

Die betrokkenes is dit eens dat gesonde kompetisie en uitmuntende sportmangees nie net op die veld nie, maar ook ten opsigte van die ondersteuners, asook alumni, die eerste doelwit is. Daarmee saam is dit ʼn feit dat skole en dorpe se voortbestaan en kwaliteit nie van mekaar geskei kan word nie. As ons nie hande vat en Potchefstroom as een van die beste onderrigbestemmings bemark nie, verloor ons nie net ʼn bemarkingsgeleentheid nie, maar ook ʼn geleentheid om die beste vir die jeug te bied.

Alle groot dinge begin by die eerste tree en daarom versoek ons die gemeenskap, asook die alumni van albei skole, om hierdie inisiatief te ondersteun. Ouers en besighede kan deur die skool van hulle keuse ʼn boom bespreek, of alternatiewelik kan die Potchefstroom Sakekamer gekontak word om ‘n boom te bespreek by 071 608 8775.