Omdat dit so ’n groot bate vir Potchefstroom is, moedig die Potch-Tlokwe Sakekamer die plaaslike sakegemeenskap aan om Aardklop te ondersteun.
Die voorsitter van die sakekamer, Bennie Groenewald, sê hulle assosieer hulself graag met Aardklop en vra dat sakelui hierdie groot rolspeler in Potchefstroom se ekonomie op mikrovlak ondersteun.
Hy sê die fees, wat vanjaar met die kykNET Fiësta-toekenning as Gewildste Kunstefees vereer is, maak jaarliks ‘n bydrae van R50,3 miljoen tot die plaaslike ekonomie.
Die fees neem meer as 350 plaaslike inwoners in diens en lok ook meer as 70 000 kuns- en kultuur-entoesiaste van regoor Suid-Afrika na Potchefstroom.
Volgens Groenewald is die volhoubaarheid van kunstefeeste regoor Suid-Afrika weens die sukkelende ekonomie in die weegskaal.
Hy sê omdat Aardklop voorsiening maak vir borgskappe van alle groottes en omvattende blootstelling op plaaslike en nasionale vlak bied, is dit ’n geleentheid vir plaaslike sakelui om betrokke te raak.
Skakel Aardklop se kantoor by 087 527 0023 of stuur ’n e-pos aan delmari@aardklop.co.za vir meer inligting.

Bron: https://potchefstroomherald.co.za/46118/sakekamer-vra-ondersteuning-vir-aardklop/